“Die wêreld het ’n identiteitskrisis” – Heinz Winckler

posted in: BLOG | 0

Elize Parker het met Heinz Winckler, SA idols-wenner (2002), by die Woordfees gepraat oor sy debuutboek, In Ritme met God.

“Tot watter waarde jy ’n man is, is direk eweredig aan tot watter mate jy na aan God leef, ” het Heinz opsommend gesê oor die tema van sy boek: om identiteit in God te vind.

Die sanger het verduidelik dat die vernuwingsproses vanaf bekering op die pad van geestelike groei uitdagend is omdat God se wil, eerder as die persoonlike wil, van belang is. “Hy sal toelaat dat jy sal ‘rock bottom’ slaan as dit is wat dit verg om te besef dat jy Hom nodig het en dat jy weer van daardie plek af kan opstaan saam met Hom.”

Hy het gedeel hoe hy as t’ware sy stem moes “opoffer” met die besef dat God dit kan wegneem van hom indien dit in die pad van hulle verhouding staan. Dit het baie geduld gekos om sy idees en verwagtings neer te lê in ruil vir dit wat God se plan met sy lewe is.

Heinz het vertel hoe die ‘struggle’ rondom identiteit gesetel lê dit wat jy doen en wie jy is ‘n kultuurprobleem is. “Ek was ’n ‘people pleaser’. Ek wou almal rondom my ‘happy’ hou.”

Hierdie pa van drie seuns lê klem op die belangrikheid van dissipelskap saam met ander. “Dit was vir my die sleutel gewees tot die deurbraak na die ‘next level’,” het hy aan RealDeal vertel. “Dit is een ding om op jou eie alleen eerlik met die Here te praat, maar dis ’n ander ding om dit teenoor mense te erken en deur die goed te worstel.”

Eerder as homself as ‘n rolmodel voor te hou, is dit sy hartsbegeerte dat sy gehoor op God in hom fokus. Hy glo deel van die Here se plan met sy lewe is om ‘n invloed te hê vanaf die kommersiële platform.

In sy afsluitingsgebed het hy gesê: “Die wêreld in sy geheel sit met ’n identiteitskrisis vir die eenvoudige rede dat hulle nie hulle Skepper ken nie. Hoe kan ons onsself leerken as ons U nie ken nie, die een wat ons gemaak het, die een wat ons die beste ken?”

Foto:Kyknet

Leave a Reply