Boekresensie: Van Pollsmoor tot Prediker deur Juan Truter

posted in: Book Review | 0

Jaun se stormagtige kinderlewe het hom ‘geleer’ dat self-gelding met geweld gepaardgaan. Weens gewelddadige omstandighede tuis het sy ma haar eie lewe geneem en binnekort het hy sy plek as kind in sy ouerhuis verloor.

‘n Mislukte verhouding, werksgeleenthede as ‘n bouncer en dwelmkoeriër en sy goeie baklei-vaardighede het vinnige opgang in die onderwêreld meegebring. Binnekort moes selfs bendeleiers en berugte kriminele terugstaan vir hom.

Samewerking met ‘n Russiese mafia-baas, jaagtogte, kapings en talle sake van aanranding het gevolg maar Jaun het besef die Here is sy enigste hoop uit die doolhof van sirkelroetes wat aggressie vir hom uitgelê het.

Enkele oomblikke na sy gebed om hulp na God het sy sake hom ingehaal en dis in die tronk waar sy ware hoendervleis-avontuur begin het.

Van Pollsmoor tot Prediker gee die werklikheid van die Suid-Afrikaanse tronkomstandighede weer. Dit skep die  platform vir Jaun se verhaal as verskil-maker.

Sy invloed in die selle waar hy verantwoordelikheid geneem het gee hoop aan elkeen wat vaskyk in ‘n lewe van gevolge wat nie kan verdwyn nie maar herskep kan word.

Geestelike ervarings en konfrontasies met ander gelowe en bygelowe, praktiese toepassing van die waarhede in die woord en ‘n reis na ‘n lewe wat geleenthede bied bo die vanselfsprekende oordeel van die gemeenskap rondom hom word vertel in ‘n spannende verhaal. Die eenvoudige taalgebruik maak dit ook baie toeganklik.

Die manier waarop Jaun die Here se leiding soek in elke fase van sy tronkvonnis en Sy guns sien deurkom bied inspirasie en getuienis van Sy beloftes wat daar is vir elkeen wat glo met erns.

Eersdaags ook beskikbaar in Engels, is hierdie boek nie die laaste titel wat Jaun in gedagte het nie.

Na jare van diens by Alpha as gevangenis-koordineerder, sal hy ook van volgende jaar af voltyds werk by sy eie organisasie. Mid-Way is ‘n lewensonderrigprogram gemik op eks-gevangenes, jong gesinne en jeug in riskante omstandighede.

Leave a Reply